KARBEELHUISE
Arbeidersfontein, Groot-Karoo 1872
Die meeste karbeelhuise (ook bekend as "kliprondawels") van die Groot-Karoo is geleë tussen die dorpe Williston, Carnarvon, Loxton en Fraserburg. Dié huise, vandag geproklameerde monumente, dateer uit die E19 toe die eerste veeboere deur die Karoopoort getrek het op soek na nuwe weiding. In dié houtlose streek is daar 'n oorvloed plat klippe waarmee kraalmure en huise gebou word. Die dakke van die huise is gebou deur die klippe te karbeel, 'n tegniek wat ook elders in die wêreld gevind word, byvoorbeeld by Alberobello in Italië en Gordes in die Alpe. In die Noord-Vrystaat en Lesoto is oorblyfsels van dergelike strukture, hoewel heelwat kleiner en waarskynlik slegs gebruik as herdershutte, wat uit die E16 dateer.
Die karbeelhuis op Arbeidersfontein op die pad tussen Williston en Carnarvon, blykbaar is 1872 deur Hendrik Esterhyse gebou, is tipies van die streek, en in 'n goeie toestand. Die mure is tot deurhoogte gebou met groter klippe, en die amper piramiedvormige dak met plat klippe van 50 tot 75 mm dik. Klippe is droog gepak, met klipsplinters en brokklip tussenin sodat elke klip stewig lê. Later is die hele buitevlak, asook die binnemure tot uitgestrekte armhoogte, met klei glad gesmeer en afgewit. Die dak se binnekant is onafgewerk. Rye klippe steek by die dak uit om as trapplek tydens konstruksie en onderhoud te dien. Die huis bevat 'n paar ou meubelstukke en ander oudhede. Die boer wat in dié huis tot sy sesde jaar gewoon het, is onlangs oorlede, maar sy dogter hou 'n oog oor die plek. Die mure is 650 mm dik, die dak 'n bietjie dunner. Om 2 uur die middag (33° C buite) was die binnetemperatuur 'n koel 23° C.
Enkele kilometers verder is die plaas Schuinshoogte met 'n ronde karbeelhuis wat getuig van besondere vaardigheid. Die mure begin reeds van vloervlak af karbeel, en die ronding is besonder gelykmatig. Ongelukkig is dié huis taamlik verwaarloos. Nog verder is die plaas Konka waar die oorspronklike twee karbeelhuise aan drie kante omring is deur ‘n konvensionele huis.
Walton J. 1965. Homesteads and villages of South Africa. Pretoria: Van Schaik. P 78
|
|







|