Share this record

Contact Artefacts
please if you have any comments or more information regarding this record.



List of Projects

VAN DER MERWE, Johannes David Prins (Hannes)

Born: 1924 03 16
Died: 2012 03 16

Architect

SACA:
Reg No: 1104
Year registered: 1948

BArch 1946 (Cape Town)

Associate of the Royal Institute of Architects 11.11.1947, Registration serial number 9172
Lid van die Instituut van Suidafrikaanse Argitekte KPI, 01.07.1948, Registrasie serienommer 1104
Associate of the Institute of South West African Architects, 25.03.1953, Registration 4334 number 19
Suid-Afrikaanse Raad vir Argitekte, registreer 29.11.1972, Registrasienommer 270
Associate of the Association of Arbitrators, 22.11.1979, number 63
Fellow of the Association of Arbitrators, 06.10.1981, number 63
Volle lid Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 03.10.1980

Hannes van der Merwe is op 16 Maart 1924 op die plaas, Karnemelksvlei, by Citrusdal gebore. Sy vader, Albertus, is as vakman in sy oom se werkswinkel en wamakery opgelei. Teen die ouderdom van veertien is Albertus met die beskildering van waens en kapkarre toevertrou en teen sestien kon hy 'n bokwa eiehandig opbou. Hy is later met Alida Burger getroud en het teruggetrek na sy deel van die erfplaas. Hier het hy 'n werkplek ingerig en ook waterkrag deur middel van 'n watermeul opgewek. Dit het hom toegelaat om 'n sirkelsaag aan te dryf en om vir die gesin en die bure koring te maal.

Die gesin het in 'n tweeslaapkamerhuis met 'n voorhuis/eetkamer en kombuis gebly. Dit had 'n strooidak, misvloere en was sonder lopende water. Hieroor skryf die argitek self later in 'n reeks artikels in Die Landbouweekblad. Hannes het sy eerste skoling in 'n plaasskool by Donkerhoek ontvang, maar in 1930 het die familie na Citrusdal, waar 'n skool in 1922 opgerig is, getrek om die kinders se opleiding te verseker. Hulle het in twee huurkamers gebly en Albert het 'n werkswinkel vir homself in die "onderdorp" aan mekaar getimmer. Dit was ingerig vir skrynwerk omdat hy al meer by bouwerk betrokke geraak en kosyne, deure, vensters en kaste vervaardig het. Later het hy sy eie huis gebou en het ook meubels gemaak. Elke kind is op een of ander wyse by die werk betrek en dit was Hannes se taak om te messel, steiers te maak en dakke op te sit. Sy vader het hom reeds vroeg in sy lewe in die rigting van argitektuur gestuur, 'n tekenbord en tekenhaak gekoop en aangemoedig om te teken.

Omdat die skool op Citrusdal nie matriek aangebied het nie, is Hannes in 1939 na die Hoër Jongenskool in die Paarl waar hy in 1941 matriek met ses onderskeidings geslaag het. Dit het aan hom beurse besorg en die volgende jaar het hy by die Universiteit van Kaapstad ingeskryf.

Die Argitektuurskool was toe 'n onderafdeling van die Michaelis Skool vir Beeldende Kunste met professor John WHEATLEY (1892-1955) as direkteur. Argitekstudente moes, vanaf hulle tweede jaar, bedags in praktyke werk en aandklasse bywoon. Praktisyns het die opleiding by Michaelis in twyfel getrek en 'n beroep gedoen om 'n onafhanklike hoogleraar in argitektuur. "The paper architects we are now turning out", glo hulle, "are by way of being a danger to our craft and a menace to public weal"2. In 1937 is L.W. THORNTON WHITE (1901-1965) in 'n aparte leerstoel aangestel. Hy, en ander dosente van die tyd, soos Owen PRYCE LEWIS (1909-1994), F.L. STURROCK (1913-1991) en die ingenieur, Reuben STUBBS, het gepoog om Modernisme te bevorder, iets wat in die kraal van die handige en praktiese Van der Merwe gepas het. STUBBS was besig om Afrikaans te leer en het gereeld gesprekke met hom en ander Afrikaanssprekende studente gevoer om 'n lys van Afrikaanse terme vir die boubedryf te help opstel.

In 1943 het die argitekstudente vanaf die Michaelis- na die Mowbray-kampus van die Mediese skool verskuif en is daar plek vir hulle in die Patologiegebou gemaak. Van sy medestudente was Revel FOX (1924-2004) wat sy studie onderbreek het om by die Suid-Afrikaanse magte tydens die Tweede Wêreldoorlog aan te sluit, Barrie BIERMANN (1924-1991), J. Anthonie SMITH (1923-2007), Jack BARNETT en Karin STRÖMSÖE, wat later 'n bekende kunstenaar en illustreerder geword het3. Sy was die dogter van die argitek, Magda SAUER (1890-1983), en Trygve STRÖMSÖE, 'n Noorweegse ingenieur verantwoordelik vir die bou van die Tafelberg kabelspoor.4 Strömsöe het eendag skielik uit die ateljee verdwyn en net 'n enigmatiese wysheid in Van der Merwe se outograafboekie nagelaat:
There are three arts –
Painting, music and
Ornamental pastry-making
Of which architecture is a subdivision.
5

Dié sentiment is gedeel deur Thornton White wat van mening was dat Modernisme die bouwyse was wat die beste vir kontemporêre menslike behoeftes voorsiening gemaak het, "... functional and utilitarian in character rather than what then prevailed in Cape Town, which he described as the 'dilettante art of dressing carelessly devised and inappropriately planned buildings in the frills and fancies dictated by quickly passing whims of fashion'..."6

As student het Van der Merwe twee artikels die lig laat sien. In die tydskrif, NUSAS, het hy dit oor die moontlikhede wat die Wêreldoorlog vir die boubedryf geskep het en in Tat: Magazine of the UCT School of Architecture lewer hy kommentaar oor die ideale en uitdagings vir die jong argitek.7 In 1946 het hy as Afrikaanse redakteur van NUSAS se tydskrif, Unity, waargeneem.8 Gedurende vakansies het hy ook sy pa bygestaan en in 1943 het hy as voorman opgetree by die bou van 'n skool op Vlermuiskop, later Lutzville, wat deur W.A. RITCHIE-FALLON ontwerp is. In 1945 het hy ook 'n kliniek in Windermere ontwerp wat deur mediese studente gebruik sou word en deur die Union of Jewish Women aangestig is.

Na die voltooiing van sy studies is Van der Merwe na Engeland waar hy by die praktyk van Fry en Drew aangesluit het. Maxwell FRY het ook vroeër saam met Walter Gropius praktiseer en sedert 1945 saam met Jane DREW. In 1951 tot 1954 was hy senior argitek in Chandigarh in samewerking met LE CORBUSIER.9 Hy en Drew was pioniers van die Modernisme in Engeland en Hannes het tuis gevoel in hulle kantoor aangesien dit, soos hy, besorg was oor aandag "... to detail, the understanding of basic needs and his [Fry's] insistence on the importance of a building in its environment."10 Fry en Drew was ook tot na die oorlog in Wes-Afrika werksaam en Hannes het lid van die "Afrika-groep" geword. Sy werk het meestal skole, hostelle, huise en inrigtings vir gestremdes behels. Hy het daar, en vir die res van sy professionele lewe, by RIBA aangesluit. Teen die einde van 1947 het hy 'n toer deur Wes-Europese lande onderneem en daarna na Kaapstad teruggekeer waar hy by die firma van MEIRING EN NAUDÉ ingeval het.

Meiring en Naudé is in hierdie jare dikwels vir plattelandse projekte aangestel omdat daar min firmas was wat Afrikaans magtig was. Van der Merwe se eerste projek was 'n nuwe skoolkoshuis in Groblershoop in die Noord-Kaap waar van plaaslike arbeid en plaaslik vervaardigde stene gebruik gemaak is. Hierna was hy verantwoordelik vir die kontraktekeninge en konstruksiefase vir die SAUK-gebou wat onder leiding van Jan VAN WIJK ontwerp is. Die gebou is in 1955 voltooi. Terselfdertyd is die firma aangestel om die Hoofposkantoor asook takkantore vir Sanlam en Ou Mutual in Windhoek en takkantore en huise vir bankbestuurders van Standard Bank in Otjiwarongo, Outjo en Mariental te ontwerp. Verskeie geboue, soos die Gordonia-hospitaalkompleks, skole in Upington, Keimoes, Karos en Niekerkshoop, kantoor- en woonstelgeboue vir Ou Mutual op Upington, Springbok, Prieska, Kuruman en Calvinia, ouetehuise op Springbok en De Aar asook kerke op Pofadder en Kakamas het hierna gevolg. Van der Merwe was by vele van hierdie projekte betrokke en het soms die lang afstande na die noorde in geselskap van Barrie BIERMANN of Hannes MEIRING afgelê. Van die firma se grootste bouwerke in die jare vyftig was Mutualpark en die hoofkantore van Sanlam in Bellville en Southern Life Association in Nuweland. Mutualpark is in 1955 voltooi en verskeie kere gepubliseer.11

In 1951 is hy getroud met Letskin (Aletta) de Wet wat toe by die SAUK gewerk het en hulle het in 'n nuwe huisie, wat hy self in Tamboerskloof laat bou het, ingetrek. Daar is hulle vier dogters gebore.

In 1952 het Hannes en Ferdinand PAPENDORF vennote geword in die firma wat voortaan as MEIRING, NAUDÉ, PAPENDORF & VAN DER MERWE bekend gestaan het. Opdragte soos 'n kraamhospitaal in Mowbray, die Cape of Good Hope Savings Bank in St. Georgesstraat, Kaapstad, die "Asiatiese Bazaar" in Woodstock, geboue vir die Hoërskool DF Malan en die Anatomiegebou vir die Universiteit van Kaapstad het gevolg. In hierdie tyd het Van der Merwe ook lesings oor argitektuur gehou en artikels – ook oor restourasie en bewaring – gepubliseer.12 In 'n reeks artikels in die Landbouweekblad kom sy plaasagtergrond, gemaklike skryfstyl, taalbeheer en woordeskat skerp na vore. Hy skryf, met die lekeleser in gedagte, oor eenvoudige bouprobleme, maar laat nie die benadering van argitekte links nie:

Hoe dit ook al sy, huise en geboue – hulle koste, gerief, voorkoms, duursaamheid, konstruksie, lekkasies – ja, alles omtrent strukture wat deur die mens geskep word om sy lewe in die stad of op die plaas gerieflik te maak, is deel van die daaglikse gesprek en sal in hierdie gereelde geselsies toelig word.

Om mee te begin, kom ons kyk na die verskillende komponente van 'n basiese woonhuis of gebou. Dit bestaan uit fondamente en fondamentmure waarop die vloer rus. Bokant die vloer is daar die omsluitingsmure, dak, plafon, solder, ens. [... ]

Vroeë dae is op verafgeleë plase selde van betonstrookfondamente gebruik gemaak. Gewone bonkige klippe uit die rivier of berg is styf teenmekaar in die fondamentslote gegooi, met klei of sand tussen-in. Daarna is die mure bo-op gebou. Baiekeer het die stelsel gewerk, veral as die bo-bou boonop uit rousteen of klei was. Maar ag, hoe dikwels het die mure nie boontoe gekraak nie, en was dit moeilik om so 'n kraak in 'n roubaksteenmuur permanent te heel! 'n V-groef word in die pleister gekap, reg-gemaak en oor 'n paar weke het jy twee krake pleks van een. Dit was jaar na jaar se ding.13

Tot en met die veertigerjare het huisbou vir die gewone man maar 'n eenvoudige en eentonige profiel gehandhaaf. Toe mettertyd, as gevolg van formele opleiding in die boukuns, het jong argitekte soos Rex MARTIENSSEN, Gordon McINTOSH en Norman EATON begin om die sogenaamde moderne aanskyn aan ons boukuns te gee. Die geboue wat hulle ontwerp en gebou het, was min – hulle was te duur, te avant garde en te stomp vir die smaak en sak van almal behalwe 'n paar uitverkorenes. Die strukture was suiwer vir die funksie en min vir die oog. Mure, gate vir vierkantige vensters, 'n plat dak, eintlik iets soos 'n boks. Niks meer nie. Geen gewels of onopgesmuktheid. Punt.

Die eenvoud is later getemper deur 'n jonger geslag argitekte wat vandag nog praktiseer en wat die kleur "wit" herontdek het. Alle kleure is aanvaarbaar mits dit wit is. Maar alle huiseienaars hou nie van die higiëniese wit nie en 'n ligte grys of groen pas miskien beide die eienaar se smaak en die Karoolandskap van die ligging baie beter. So het daar eintlik 'n bietjie van 'n verwydering ontstaan tussen die professionele planmakers en die boupubliek. Slegs 'n klein persentasie van die hedendaagse huise dra inderwaarheid die argitek se stempel van individualiteit. [...]

Tydgenootlike argitektuur impliseer die gebruik van die nuutste beskikbare materiale en toerusting, afwerkings, dakbekledings en so meer, op 'n sindelike en funksionele manier aanmekaar gevoeg sodat dit 'n gerieflike, aangename en aantreklike tuiste bied vir die bewoner. [... ]

Wat plaaswoonhuise betref, staan die gewelhuise van die Bolandse plase nog altyd kop en skouers uit bo hul eweknieë in ander lande van die wêreld. In Amerika en Europa het industrialisasie al so ingetree dat selfs die boer se huis baie keer nie van sy pakkamer of stal onderskei kan word nie.14

Afgesien van sy werk in die praktyk, het hy het ook by verskeie kultuurorganisasies betrokke geraak. Hy het op die kerkraad van die Groote Kerk gedien, was lank op die raad van die Kaapse Provinsiale Instituut van Argitekte en tussen 1966 en 1968 president van hierdie liggaam. Verder was hy lid van die Oranjeklub, die Van Riebeeck-vereniging, die Klub Here Sewentien, die City Club, die Kaapse Afrikaanse Toneelvereniging (KAT) – hy het selfs 'n rol of twee in uitvoerings gespeel.15 Hy was vir meer as dertig jaar op die Advieskomitee – ook as voorsitter daarvan – van die Kaaplandse Raad vir Uitvoerende Kunste (KRUIK), die Adviesraad vir die Nasionale Toneelgeselskap (NTO), 'n Fakulteitslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Raad van die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad.16 Hy was ook betrokke by restourasie en bewaring, argitek vir die restourasie van die graanskuur en duiwehok op Coornhoop in Observatory en, saam met sy vennote, stigterslede van die Stigting Simon van der Stel in 1959.17 Hy was ook die beoordelaar van verskeie argitektuurkompetisies, onder andere die Taalmonument, Paarl, die DF Malan-amfiteater, Stellenbosch en ander prysvrae vir die Universiteit Stellenbosch.18

Na die dood van Hugo Naudé in 1967 is die naam van die firma na VENNOOTSKAP HANNES VAN DER MERWE verander en het die personeel tot 27 gegroei. Twee jaar tevore is die firma, saam met KENT, MISZEWSKI, HOCKLEY & PARTNERS, as argitekte aangestel vir 'n nuwe Operahuis en teater vir Kaapstad.19 Van der Merwe het die taak, namens sý kantoor, op homself geneem en hy, Harold KENT en Sidney TODD, argitek in diens van die Provinsie, het op 'n studiesreis na Europa en Amerika vertrek waartydens hulle amper 40 operahuise en teaters in nege lande besoek het. Terug in Kaapstad is 'n verslag aan die Provinsiale Administrasie voorgelê en is daar met die ontwerp begin. Hulle het 'n kantoor op die terrein ingerig en die uiteindelike bouwerk van die kompleks, wat op 19 Mei 1971 ingewy is, is binne 26 maande afgehandel.20

Hannes van der Merwe is in 1970 geskei en in 1973 weer getroud met Lize Marie (Elise) Fossen.

In die jare sestig en sewentig het die firma belangrike en groot opdragte gekry. Sanlamgebou, vandag die hoofkantoor van Media24, het oor die drooggelegde en nog ylbeboude Roggebaai getoring en Cartwright's Corner (nou 'n woonstelblok)21 op die hoek van Adderley- en Darlingstraat en die Kaapse Provinsiale Administrasiegebou (1975) op die hoek van Waal- en Langstraat het die stad se luglyn verander. Hiertoe het die toringblok vir die Reserwebank in Sint Georgesstraat meegehelp en die grootste van almal, die Kaapstadse Burgersentrum, vandag Unistad-hoofkantoor, waaraan François PIENAAR 'n groot aandeel gehad het, is hoog en lank oor Hertzog-boulevard uitgerek. Daarmee is 'n begin in 1965 op die tekenbord gemaak en dit is in 1979 voltooi.

Verdere bouwerke was die Zerilda Steyn-gedenkhuis (1974), 'n reeks A-raam saaltjies vir die NG Sendingkerk in die Kaapse skiereiland,22 die ontwerp en uitleg van die Hoër Landbouskool in Agter-Paarl, verskeie geboue vir die destydse Wellingtonse Opleidingskollege, 'n takkantoor vir Santam in Calvinia, 'n nuwe kampus vir die fakulteit van Geneeskunde vir die Universiteit van Stellenbosch naby die Tygerberg Hospitaal in Bellville wat in medewerking met John COLLINS gedoen is, uitbreidings aan die KWV se hoofkantoor en die restourasie van Laborie in die Paarl, verskeie geboue vir die Mediese Navorsingsraad in Bellville, Pretoria, Nelspruit en Durban, die uitbreiding van die Parlementsgebou in Kaapstad om die Driekamerparlement te akkommodeer – saam met HANNES MEIRING, VAN DER LECQ EN VENNOTE – en die hoofkantoor vir die Reserwebank in Lilongwe, die nuwe hoofstad van Malawi, voltooi in 1981.23

In 1984 het hy uit die praktyk getree. Dit het daarna onder die naam Arcmen gepraktiseer. Hy en sy vrou het na Bloubergrant getrek waar hulle 'n nuwe huis gebou het. Hy is op 16 Maart 2012 oorlede.24

Schalk W. LE ROUX, Gordonsbaai, Oktober 2012

Erkenning: Hierdie lewenskets is saamgestel uit die boek Hannes van der Merwe argitek en skrywersvriend van JC Kannemeyer (2006), die Hannes van der Merwe-materiaal, Dokumentasiesentrum, J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit van Stellenbosch – met die hulp van Anneke Schaafsma, Mimi Seyffert en Marina Brink – asook Elise van der Merwe (vrou), Lize van der Merwe en Hanli van Rooyen (dogters).

Skrywes deur en oor Van der Merwe en sy werk

Van der Merwe, J.D.P. 1946. Die oorlog en die boubedryf. NUSAS Journal/Tydskrif, vol. 6, no. 1, pp. 22-24.
Anonymous (W. Duncan Howie?). 1955. Mutual Park, Pinelands, Cape Town. South African Architectural Record, vol. 40, nr. 3, pp. 34-39.
Anonymous (L. Wale?). 1955. South African Mutual headquarters building Pinelands, Cape. Architect and Builder, vol. 5.3, March, pp. 60-72.
Van der Merwe, Hannes. 1956. Die Argitekte en Hoeveelheidsopnemers (private) Wet van 1927. TAT 5: Magazine of the UCT School of Architecture, August, pp. 1-3.
Biermann, Barrie. 1956. Counterblast to Hannes van der Merwe. TAT 5: Magazine of the UCT School of Architecture, September, pp. 27-28.
Anoniem. 1962. Kerklike boukuns in S.A. Kerk hert deur die eeue altyd die voortou geneem. (Verslag van lesing deur Van der Merwe, UCT Summer School). Die Burger, 9 Februarie.
Anonymous (L. Wale?). 1962. Tallest building completed. Architect and Builder, vol. 12.6, June, pp. 2-9.
Wale, Laurie. 1964. Cape Dutch outing. Architect and Builder, vol. 14.6, June, pp. 14-17.
Todd, S.H., Kent, H.A.P. & Van der Merwe, J.D.P. 1965. Nico Malan-skouburg Kaapstad. Verslag oor studiereis in verband met teaters en operageboue. Kaapstad: Kaapse Provinsiale Administrasie.
Van der Merwe, J.D.P. 1965. Nervi-gebou nuwe belewenis in ons argitektuur. Die Burger, 20 Februarie.
Van der Merwe, J.D.P. 1965. Le Corbusier was 'n groot skepper van ons eeu. Die Burger, 04 September.
Van der Merwe, H. 1965. Die restourasie van ou geboue. Stigting Simon van der Stel Bulletin 11, Oktober.
Anoniem. 1966. Prysvraag: Taalmonument te Paarl. South African Architectural Record, vol. 51, no. 5, pp. 13-15.
Louw, L.B. & Van der Merwe, J.D.P. 1968. Paarl Burgersentrum prysvraag, Assessorsverslag. South African Architectural Record, vol. 53, no. 7, pp. 12-16.
Van der Merwe, J.D.P. 1968. Introduction in Immelman RFM & Quinn, GD. The preservation and restoration of historic buildings in South Africa. Cape Town: AA Balkema, pp. x-xi.
Van der Merwe, J.D.P. 1969. Ludwig Mies van der Rohe Hy was die laaste van drie grotes in die boukuns. Die Burger, 29 Augustus.
Van der Merwe, J.D.P. 1970. Standpunt. Plan, Maart, pp. 7-8.
Anoniem. 1970. Die Langenhoven-gedenksaal en. Matieland, vol. 14:2, Augustus.
Anonymous (L. Wale?). 1971. Cartwright's Corner, Cape Town. Architect and Builder, vol.21.3, April, pp. 2-7.
Lodge, J. s.a. (1972?). The Reserve Bank Building. Planning and Building Development 16, pp. 15-25.
Van der Merwe, J.D.P. 1973. So word koste in boubedryf opgejaag. Die Burger, 27 Maart.
Van der Merwe, Hannes. 1973. Opleidingskompleks (Tygerberg-hospitaal). Potio Medica, pp. 13-17.
Van der Merwe, H. 1973. Vir die wat in ‘n huis wil woon, in, Van der Merwe, C.P & Albertyn, C.F. (reds). Die Vrou. Kaapstad: CF Albertyn, deel 1, pp. 181-211.
Van der Merwe, Hannes. 1976. New South African Reserve Bank Building, Cape Town. ConstrUCT. (Building Students Council, UCT)., pp. 4-5.
Anonymous. 1978. Personality Hannes van der Merwe. Must [Murray and Roberts], May, pp. 4-5.
Anonymous. 1978. Cape Town's largest building enters the home straight. Must [Murray and Roberts], May, p. 35.
Lodge, James. 1979. Cape Town Civic Centre. Municipal Engineer/Munisipale Ingenieur, vol. 19, nr. 2, March/April, pp. 59-73.
Anonymous. 1979. Cape Town Civic Centre is handed over. Must [Murray and Roberts], May, pp. 9-11.
Departement van die Stadsingenieur. 1979. The Cape Civic Centre Die Kaapstadse Burgersentrum. Kaapstad: Stadsingenieur.
Anonymous (L. Wale?). Cape Town Civic Centre. Architect and Builder, vol.29.7, July, pp. 2-13.
Anonymous. 1980. Malawi Reserve Bank. Architect and Builder, vol.30.9, September, p. 30.
Anonymous (L. Wale?). 1980. Homed for the aged [Seepunthof]. Architect and Builder, vol.30.10, October, pp. 14-17.
Anoniem. 1982. 11 Sale in 11 jaar. Soeker Kwartaalblad van die Skiereilandse Sendingraad, November, p.1.
Wale, Laurie. 1983. Old Mutual's new HQ. Architect and Builder, vol.34.11, November, pp. 2-7.
Van der Merwe, Hannes. 1983. New Mutualpark extentions 1981-83. Mutualpark '83 [Brochure].
Van der Merwe, Hannes. 1983. Fondamente: hoe word dit gelê? Landbouweekblad, 19 Augustus, pp. 10-11.
Van der Merwe, Hannes. 1983. Basiese reëls vir bou van kaggel. Landbouweekblad, 2 Desember, pp. 42-43.
Van der Merwe, Hannes. 1984. Riolering op die plaas. Landbouweekblad, 9 Maart, pp. 28-29.
Van der Merwe, Hannes. 1984. Beeskraal vir die moderne boer. Landbouweekblad, 22 Junie, pp. 20-21.
Van der Merwe, Hannes. 1984. Skape skuil onder dié skeerskuur. Landbouweekblad, 6 Julie, pp. 32-33.
Van der Merwe, Hannes. 1984. Perdestalle – toeka en vandag. Landbouweekblad, 20 Julie, pp. 44-45.
Van der Merwe, Hannes. 1989. Merwe: vele fasette, in, Gilfillan, Rouston & De Vries, Abraham (reds). Op die wyse van die Taal. Kaapstad: Vlaeberg, pp. 262-264.
Anononymous. 1989. Arcmen – a historical review. Architect and Builder, December, pp. 18-23.
Van der Merwe, Hannes. 1995. Drie digters het saam gebou aan die Nico. Bylae tot Die Burger, 19 Julie.
Van der Merwe, H. 1997. Saam met Dirk Opperman in Malawi. Tydskrif vir Letterkunde XXXV:, Februarie.
Van der Merwe, J.D.P. 1997. Werk van Willem Marinus Dudok in Nederland gedenk. Die Burger, 22 Februarie.
Kannemeyer, J.C. 2006. Hannes van der Merwe argitek en skrywersvriend. Pretoria: Protea Boekhuis.
Van Bart, M. 2012. Oud-argitek Hannes van der Merwe oorlede. Die Burger, 17 Maart, p. 10.

Radio

"Nico Malan". SAUK Kunsrubriek, 3 April 1966 "The role of the architect", 19 September 1966. Die praatjie moes maksimum 14 minute lank wees en hy is R20 daarvoor betaal. "Die rol van die argitek", 11 Januarie 1968

___________________________________________

  1. 02.12.1983, 09.03, 22.06 en 20.07.1984
  2. Phillips, H. 1993. The University of Cape Town 1918-1948: The formative years. Cape Town: UCT Press, p. 110
  3. Sy het verskeie, veral kinderboeke, illustreer, ook C. De Bosdari se Wines of the Cape (1966).
  4. Verwey, E.J. 1995. New dictionary of South African biography. Pretoria: HSRC Publishers, vol. 1, p. 224.
  5. Kannemeyer, J.C. 2005. Hannes van der Merwe argitek en skrywersvriend. Pretoria : Protea Boekhuis, p. 31.
  6. Phillips, H. 1993. The University of Cape Town 1918-1948: The formative years. Cape Town: UCT Press, p. 331.
  7. Kannemeyer, J.C. 2006. Hannes van der Merwe argitek en skrywersvriend. Pretoria: Protea Boekhuis, pp. 31-32.
  8. Unity, Winter 1946, p. 1. Published by the Cape Town committee of the National Union of South African Students.
  9. Lampugnani, V.M. 1989. The Thames and Hudson encyclopaedia of 20th-century architecture. New York: Thames & Hudson, p. 111.
  10. Emanuel, M. 1994. Contemporary architects. New York: St James Press, p. 328.
  11. Anonymous (L. Wale?). 1955. South African Mutual headquarters building Pinelands, Cape. Architect and Builder, vol. 5.3, March, pp. 60-72; Peter, J. 1958. Masters of modern architecture. New York: George Brazille, pp. 198, 215.
  12. Van hulle is opgeneem in die Hannes van der Merwe-materiaal, Dokumentasiesentrum , J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit van Stellenbosch, Lêers 195.1-5.
  13. Van der Merwe, Hannes. 1983. Bouwerk vir die plaas: Fondamente: Hoe word dit gelê? Landbouweekblad, 19 Augustus, p. 10.
  14. Kannemeyer, J.C. 2005. Hannes van der Merwe argitek en skrywersvriend. Pretoria : Protea Boekhuis, p. 70.
  15. In Periandros van Korinthe (1954) van D.J. Opperman. Inskip, D. 1972. Forty little years. Kaapstad: Howard Timmins, pp. 82-83.
  16. Hannes van der Merwe-materiaal, Dokumentasiesentrum, J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit van Stellenbosch, Lêer 195.1: Korrespondensie N-Z.
  17. Hannes van der Merwe-materiaal, Dokumentasiesentrum, J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit van Stellenbosch, Lêer 195.1: Korrespondensie N-Z; Fransen, H. 2004. The old buildings of the Cape. Johannesburg: Jonathan Ball, pp. 92-93.
  18. Kyk brief aan die rektor, Professor HB Thom. Hannes van der Merwe-materiaal, Dokumentasiesentrum, J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit van Stellenbosch, Lêer 195.1: Korrespondensie N-Z.
  19. Oorspronklik die Nico Malan-teater gedoop, nou Kunstekaap.
  20. Radiopraatjie deur Van der Merwe op die program Kunsrubriek, Afrikaanse Diens, SAUK, 3 April 1966, opgeneem in die Hannes van der Merwe-materiaal, Dokumentasiesentrum, J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit van Stellenbosch; Brosjure Nico Malan-skouburg, 1971.
  21. Dennis Fabian Berman Architects. 2005. Cartwright's Corner. Architect and Builder, Aug./Sept., pp. 71-77.
  22. Anoniem. 1982. 11 Sale in 11 jaar. Soeker Kwartaalblad van die Skiereilandse Sendingraad, November, p.1.
  23. Van der Merwe, H. 1997. Saam met Dirk Opperman in Malawi. Tydskrif vir Letterkunde XXXV, vol 1, Februarie; Architect & Builder, September 1980, p. 30.
  24. Van Bart, M. 2012. Oud-argitek Hannes van der Merwe oorlede. Die Burger, 17 Maart, p. 10.
  25. Anoniem. 1982. 11 Sale in 11 jaar. Soeker Kwartaalblad van die Skiereilandse Sendingraad, November, p. 1.

Books citing VAN DER MERWE

ISAA. 1959. The Yearbook of the Institute of South African Architects and Chapter of SA Quantity Surveyors 1958-1959 : Die Jaarboek van die Instituut van Suid-Afrikaanse Argitekte en Tak van Suid-Afrikaanse Bourekenaars 1958-1959. Johannesburg: ISAA. pp 99, 211

ISAA. 1969. The Yearbook of the Institute of South African Architects and Chapter of SA Quantity Surveyors 1968-1969 : Die Jaarboek van die Instituut van Suid-Afrikaanse Argitekte en Tak van Suid-Afrikaanse Bourekenaars 1968-1969. Johannesburg: ISAA. pp 102, 167

Kannemeyer, John Christoffel. 2006. Hannes van der Merwe : argitek en skrywersvriend. Pretoria: Protea Boekhuis. pp All